Reaksies op besluit oor gays

Prof Fanie Snyman, Vrystaatse Universiteit: Dit is ‘n historiese besluit. Ek is dankbaar vir die intensiewe gesprek wat so ‘n groot deel tyd gevat het. Die besluit wat ons geneem het, gee ons die geleentheid om die besluite van die verlede reg te stel soos die besluit wat selibaatvereistes stel aan homoseksuele persone wat predikant in die NG Kerk wil word. Natuurlik het ons nog nie klaar gepraat oor die saak van homoseksualiteit nie. Dit bly ʼn voortgaande gesprek, maar met die besluit is daar  ʼn beduidende tree vorentoe geneem.

Amos Schreuder van Wes- en Suid-Kaapland: “Net een woord beskryf my gevoelens rondom die besluit: ‘Verheug!’”

Dr Jan Botha van die Noordelike sinode: Dis amazing. Ek dink ons is op ‘n nuwe pad. Groot aanpassings lê voor. Goeie kommunikasie met gemeentes en gemeentelede is nou noodsaaklik.

Vraag van ʼn lidmaat: “Verstaan ek dit reg – almal moet nou selibaat bly tot hulle trou?”

Dr Charlene van der Walt van Wes-en-Suid-Kapland: Tydens hierdie gesprek, het mense gepraat vir ander wat niks kon sê nie; in die plek gestaan van woordeloses en verandering het gekom. Dit was genoeg.

Elsabé Horn van Namibië: “Ek is opgewonde dat die kerk standpunt inneem in die huidige samelewing. Nou kan die saak in ’n rigting beweeg in plaas van om verder te sloer. Ek is baie opgewonde.”

Ds Zack Pienaar van Namibië: “Hierdie is die beste besluit wat die kerk moontlik kon neem onder die omstandighede. Ek dink die jeug gaan besonder bly wees dat hulle nie in die toekoms oor hierdie saak gaan hoef te besluit nie.”

Dr Kobus Gerber, uittredende algemene sekretaris: “Die mense kan sê wat hulle wil, maar die skip van die NG Kerk sal vaar en by sy bestemming uitkom. Los net die skip, hy laat hom nie onderkry nie. Hy draai stadig maar seker, op sy manier. Ons het dit al dikwels in die verlede gesien. Hier sien ons dit weer.”

Ds Nico Bezuidenhout: “Hierdie besluit maak my geweldig opgewonde oor die kerk se pad vorentoe. Dit spreek van ’n diep en respekvolle erkenning van mense se diep behoefte om in ’n verhouding met God en met ’n spesiale geliefde te staan. Nou speel ons nie meer ‘catch up’ rugby nie.”

Dr Marietjie van Loggerenberg: “Ek het geweet die Here sal nie die onreg ad infinitum laat aangaan nie. Ek het weer vertroue in die kerk. Die kerk wil weer kerk van die Here wees.”

Proponent Hennie Pienaar: “Ek voel oorweldig, so bly. Reg en geregtigheid het geskied. Daar is nou baie mense wat kan gesond word. Dis nou die volgende stap. Baie mense was uitgeskuif.”

Michelle Boonzaaier (van Inclusive and Affirming Ministries): “Die Here doen snaakse goed. Ons is so dankbaar. Maak nie saak wat nou gebeur nie. Ons het die gevoel van die sinode en die leiers gekry. Ons het hulle support gevoel.”

Ds Auke Compaan (Noordelike Sinode): “Dit is goed om te sien dat die kerk ’n pad stap waar hulle hermeneuties begin dink, kompleksiteit waardeer, eerlik is en die wetenskap ernstig opneem.”

Dr Kobus Myburgh (Noordelike Sinode): “Amen”

Ds Attie Nel (Noordelike Sinode): “Ons is verslae. Ons het nie dié uitslag verwag nie. Die sinode is besig om weg van dualisme in die paradoks in te beweeg.”

Gerhard Cilliers (Kerkraadslid, Noord Kaapland): “Ek is tevrede. Die besluit is nie finaal nie, maar die taakspan kan nog amendemente maak. Daar is in elk geval net een punt van beskrywingspunt 2 waarteen ek is.”

Koos Lübcker (Kerkraadslid, Noord Kaapland): “Ek stel belang in die siel, nie die oriëntasie nie. Ons kan nie mense wegwys nie.”

Generaal Constant Viljoen (Kerkraadslid, Oostelike Sinode): “Daar is nie duidelikheid oor wat besluit is nie. Die taakspan praat in teologiese en hoë akademiese taal oor die skriftuur. Die gemeente luister nie op grond van die hoë akademie nie, maar lees die Bybel. Hoe gaan ons dit oordra? Daar is ’n onnatuurlike stoomrollery oor selfdegeslagverhoudings van die gemeenskap en van die liberale elemente van die kerk wat nie die impak van hul besluit op die kerk as geheel in gedagte hou nie.”

Ds Cassie Aucamp (Voorsitter van die ekumeniese deputate van die Gereformeerde kerk): “My opdrag is om met die NG kerk saam te werk en in gesprek te bly tot en met die Sinode van 2017 waar daar verdere besluite geneem sal word. Hierdie besluit staan reglynig teenoor die Gereformeerde Kerk se huidige besluite en daarom sal hierdie besluit wel spanning op die verhouding tussen die Gereformeerde en die NG kerk plaas. Maar ek bly getrou aan ons bilaterale ooreenkoms om steeds in gesprek te bly.”

Annemie Bosch: “Ek is teleurgesteld dat méér mense nie ja gestem het nie, maar almal weet ek kom uit ’n ander paradigma. Sommige goed is vir my so vanselfsprekend. Liefde is liefde is liefde. Hoe het ek die reg om vir iemand te sê dat hulle nie mag trou nie omdat hulle nie soos ek trou nie?”

Johan Smook (Voorsitter van die kerkraad van Moreletapark): “Ek is baie teleurgesteld. Ons (NG Moreletapark) het eenparig daarteen besluit om homoseksuele persone in leierskapsposisies aan te stel. Ons is baie lief vir hulle en hulle mag ten volle deelneem, maar nie rolle van lering inneem nie. Ek het reeds ’n amendement ingehandig wat vra dat kerkrade die vermoë het om hulle eie beleide en definisies ten opsigte van leierskapsrolle te stel. Dit word reeds in die beskrywingspunt genoem, maar ons wil dit graag versterk en uitstippel.”

Yolanda Moldenhauer (Kerkraadslid, Wes-Transvaal): “Die besluit is op ’n baie skaflike manier en met ’n goeie gesindheid gemaak.  Ek staan verslae oor hoe vreedsaam en respekvol die saak onder die omstandighede hanteer is. Ons kan twee opinies hê, maar as ons respek vir mekaar het, kan ons darem nog mekaar vind.”

Wessel Pretorius (Kerkraadslid, Noordelike Sinode): “Die resultaat is onverwags, want tradisioneel sou die behoudende kant in ’n debat wat omtrent 50/50 verdeel is, voorgestaan word.  Ek is bekommerd oor plattelandse gemeenskappe omdat hulle dit minder sal begryp – veral in ons gemeente (Gemeente Waterberg) waar 66% van die lidmate ouer as 60 is. So ek sien probleme, maar ek aanvaar die resultate.”

Peet Venter (Waarnemer, Noordelike Sinode): “Ek is bly ons het nou tot ’n punt gekom. Dit is ’n rigtinggewende, maar nie finale besluit nie, omdat ons steeds gaan bly dink, studeer en vra. Mens kan niemand dwing om ’n opinie te hê nie. Dit is my gebed dat ons ruimte vir mense sal maak wat anders as die resultate van die besluit voel. Ek dink ons beweeg in dieselfde rigting, maar dat ons op verskillende plekke op die pad is.”