Sinodegangers is warm onder die kraag

By hierdie jaar se Algemene Sinode is daar slegs een ding wat belangriker as koffie is en dit is “eisj ja”.

Voor die aanvang van die Algemene Sinode 2015 was daar heelwat berig oor die sogenaamde “hot topics” wat bespreek sou word. Niemand het egter die hittegolf wat Sondag die Jakarandastad getref het, verwag nie. Met temperature wat tussen 32 en 36 grade Celsius wissel, is heelwat sinodegangers maar warm onder die kraag.

Johan van Schoor uit die Wes-Transvaal het sommer gou sy aanname dat die Sinode ’n das-affêre is, berou. Teen Maandagmiddag het hy genoeg gehad en ’n kortmouhemp of twee by die naaste winkel gaan koop.

Die steunspan het amper in Van Schoor se dilemma gedeel. Oorspronklik was daar beplan vir onderbaadjies om enige koelerigheid af te weer, maar Bernice Serfontein het darem gou met koel golfhempies ingegryp .

Maar somerklere kan ook net so ver gaan. Verder is sinodegangers afhanklik van die oase buite die saal. Hulle los regdeur die dag die stygende temperature in die saal agter, om saam rondom die ysdrom af te koel.

Diegene wat wel in die hitte van die saal vasgekeer is, maak maar van hul stemkartonne as waaiers gebruik terwyl Anandie Vosloo, steunspanlid, op Facebook vra of iemand groot waaiers het om vir drie dae uit te leen.

Die waaiers sou egter nie veel verligting tot die vurige debat aangaande selfdegeslagverhoudings bring nie. Die moderatuur het beleef dat die saak tussen twee vure staan en daarom dit na Donderdagmôre laat oorstaan.  

Die hittegolf het ook die aandag van die moderatuur getrek. Ds Nelis Janse van Rensburg, moderator, het immers lighartig sy kommer uitgespreek dat die hitte van die saal die sinodegangers tot slaap sal dryf.

Dr Gustav Claassen het op ’n ernstiger noot sinodegangers versoek om boere wat deur die hittegolf geraak word in hul gebede op te dra.

Woensdagaand het die sinode na afloop van die debat ’n bietjie vet op die braaivleisvuur gegooi om verhoudings te versterk. Mens sou dalk wel die seunskool se swembad vir dieselfde doeleindes kon aanwend…